Ek het onlangs die ongelooflike ervaring gehad om my baba natuurlik in die wêreld te bring. Die ervaring was bomenslik, wonderlik, intiem en … snaaks. Wie beter om ons snaakse belewenis te vertel as ʼn romantiese fiksie skrywer, of altans ek.

Met die dat dit my eerste baba, maar tweede kind is, het ek nie die vaagste benul gehad hoe kraampyne voel of waar hulle in jou liggaam manifesteer nie. Die voorgeboorteklasse het vir ons verduidelik hoe kontraksies, om die baba uiteindelik die lig te laat sien, werk. Dit was ʼn blote aanname dat dit in en om jou enorme, harde bababoep moet wees. Dit daar gelaat…

Vrydagaand besluit ons om saam met my ma-hulle te gaan uiteet. ʼn Paar van ons is oortuig daarvan dat boetie baba oor die naweek sy verskyning gaan maak, maar ek is nie so bekommerd dat ek nie honger is nie. Ons sit al te gesellig en nuttig ons maaltye, toe ek opeens verskriklike pyne in my lies begin kry. Ek verskoon myself badkamer toe, vasoortuig dat hy op my blaas druk. Die pyn in my sy klaar nie op nie en teen die middernagtelike ure moet my man, Jeandré vryf dat hy bars. Ek kan nie verstaan waar die pyn vandaan kom nie, maar op agt en half maande swanger is vreemde pyne niks nuut nie. Een nuwe verskynsel is dat my bene vir die eerste keer geswel is.

Saterdagoggend om 7uur lig my ma my vriendelik in dat sy dink dit is kraampyne en ons moet eerder aanstaltes maak hospitaal toe. Ek moet seker op hierdie stadium noem dat ons in Vanderbijlpark woon en ons hospitaal in Centurion is. ʼn Uur en vyftien minute se ry (op ʼn goeie dag). My sakke is al weke terug gepak en staan gereed. Gevolglik staan ek rustig op en dink aan al dokter se voorskrifte – maag moet skoon wees; eet ordentlik en wees rustig. Haar woorde dreun in my kop: “’n Baba val nie net uit nie.”

Die dokter se aanbevelings word gehoorsaam, daarna klim ek in die stort. Teen hierdie tyd is daar geen twyfel daaraan dat ek kraampyne ervaar nie. Terwyl die warm water oor my lyf en hare spoel, besef ek hier kom groot moeilikheid. Ek spring so vinnig as wat my ronde maag my toelaat uit die stort en waggel in die gang af. Daar trek ek meeste van my klere aan, skoene is ʼn belaglike uitdaging. Sit eers grimering aan – ons almal weet daar gaan later foto’s geneem word. Tel die haardroër op. Sit dit weer neer. My pa en ma dring daarop aan dat ons dadelik ry. Ek stry nie meer nie. Mamma help my in my skoene in.

Ons groet ons dogter, Boston terriër, ander viervoete en my ouers en spring in die reeds gelaaide motor. Teen hierdie tyd kan ek nie meer voorgee dat ek nie in ongelooflike pyn verkeer nie. Jeandré draai die witblits in die rigting van Pretoria en sit voet in die hoek. Hy gee vir my ʼn selfoon om die kontraksies te meet.

Jeandré klim op die snelweg uit Vanderbijlpark uit met my kontraksies 2minute en 15sekondes uitmekaar uit! Is dit nodig dat ek noem ek is in active labour?

My wonderlike man neem beheer en bel die dokter. Ek kan aan haar stemtoon hoor dat ons dit fyn gaan sny, maar sy is toevallig reeds by die hospitaal en sal reg wees vir ons. Ek skop my voetjies vierkantig teen die binnekant van die motor vas, gooi my stoel plat en gryp aan die vasmaakgordel vas. Skielik is die asemhalingstegnieke wat ons vooraf geleer het nie so nutteloos soos ek eers gedink het nie. Jeandré praat my moed in en hou die tyd dop vir die volgende kontraksie.

Hy beleef die oomblik in die motor effens anders as ek. Hy sit die noodflikkerligte aan, klim in die vinnige baan en laat sy loodvoet die praatwerk doen. Hy flits ligte indien iemand nie wil beweeg nie, maar bedank hulle ook in die verbygaan. Alle hoë voertuie kan duidelik sien sy vrou is in kraam. Bemoedigende handgebare deur verbygaande voertuie volg. Tussendeur praat hy my moed in en bid hardop dat ons dit tot by die hospitaal sal maak. Hy onderneem om my oor ʼn uur by die hospitaal te hê.

ʼn Uur = 60minute. Kontraksies 2minute uitmekaar. Dit is 30 kontraksies. Dit is die wiskunde wat deur my brein gaan. Dertig kontraksies tot by die hospitaal? I can do it!

Ons ry presies ʼn uur later by die hospitaal se hekke in. Jeandré haas na die voordeur. “Kry ʼn masker.” sê hy so ewe kalm. Ek, in die middel van ʼn kontraksie ruk myself op en antwoord, “kry jý ʼn masker!” Teen hierdie tyd het Jeandré uitgespring en die mans wat daar werk, ingelig dat sy vrou in kraam is. Hulle stap ewe rustig nader en maak die deur oop. In daardie oomblik kry ek ʼn wille kontraksie. Die man slaan die deur toe en skree “bring a wheelchair”.

Ek word in ʼn rolstoel gelaai, kry ʼn masker en ons jaag deur ongevalle op pad kraamsaal toe. Ek is reeds 8cm ontsluit. ʼn Vinnige ontvangs, twee negatiewe spoed-Covid-toetse en paar vorms later en ons is gereed om baba in die wêreld te ontvang.

Ons arriveer om 10:45 in die kraamsaal. Zeandré word gebore om 11:34.

Die klein lyfie het ons eers laat skrik. Toe die eerste gil uit sy keel ontsnap, bars ek en Jeandré in trane van vreugde uit. Hy is ʼn perfekte babalyfie van 3.695kg. Die ginekoloog se mond hang verbaas oop vir die gewiggie.

Jeandré neem foto’s en plaas vir babalyfie op my bors neer. Hy is volmaak. Die ervaring was opwindend en magies.

Ek is dankbaar vir – vinnige motors; goeie dokters en fantastiese hospitaalpersoneel; en ʼn storieboekheld-man, waarsonder ek dit nie sou wou doen nie.

Ek is trots op myself dat ek in staat was om natuurlik geboorte te skenk; kalm kon bly; en meeste van alles dat ek vertrou word met ʼn klein mensie.