Ek het onlangs self ʼn ma van ‘n pragtige sesjarige geword en dit het my aan ʼn ou skrywe van my laat dink. Om ʼn ma te wees, is ʼn belonende uitdaging. Dit laat my gedagtes terug dwaal na hoe ek oor my eie ma voel. Ek het teruggedink aan die tye waarmee ek met my ma in my lewe geseënd is en sommer ʼn knop in die keel gekry. Die van ons wat bevoorreg genoeg is om met ʼn goeie ma groot te geword het, kan verseker getuig van hierdie hemel-gestuurde seëning.

Wanneer mens nog jonk (en dom) is, sien jy nie altyd hoe kosbaar die tye saam is en wat ma’s alles vir ons leer nie. As jy ʼn kleuter is klou jy gewoonlik aan jou ma vas soos ʼn nagapie aan ʼn boom en niemand kan die plek van mamma inneem nie. Soos jy groot word en dinge in jou lewe begin verander. Tieners is mos altyd slimmer, beterweterig en word maklik in die skande gesteek. Ek het, dankie tog, nooit deur daardie fase gegaan nie, maar wens steeds vir meer tyd saam met my mense.

Is daar ooit genoeg woorde om ʼn ma se waarde te omskryf? Ek dink nie so nie. ʼn Ma dra jou beskermend in hierdie lewe in. Vertroos jou wanneer die donker jou gaan vang en deel jou trane sonder enige huiwering. Ons weet net mamma-soene en drukkies maak enige seerplek, selfs ʼn gebroke hart, onmiddellik beter. ʼn Ma is ʼn ligtoring wat (al is dit van ʼn afstand af) ons beskerm teen gevaar, lig op ons pad bring en rigting gee wanneer die afdraaipaaie hard roep.

Nog nooit was my ma te besig vir ons nie. Nooit sal ʼn taak vir haar te groot of te klein wees nie. Sy sal ons bystaan maak nie saak wat die hindernis is wat in ons pad gerol is nie.

Ma’s weet eenvoudig net wat die antwoord op byna alle vraag is – hulle weet wat gaan jou laat beter voel; hoe om te leer vir ʼn groot toets; hoekom die lug blou is; waar ʼn nodige item aangekoop kan word; wat versekering, banksake, belasting en administrasie beteken en hoe mens dit benader; hoeveel waspoeier vir die bondel wasgoed ingegooi moet word; die bestanddele wat benodig word om ʼn perfekte dis aanmekaar te slaan; hoe om die wynvlek uit jou gunstelingrok te haal; en al die ander onvoorsiene gebeurtenisse waarmee die lewe ons verras.

ʼn Ma is ʼn voorbeeld, leermeester, geneser en vertrooster.

Belangrikste is dat ma’s weet hoe om ons te bewaar en by die Vader se voete neer te lê. Sy is God se agent waardeur ons die lewe kan sien vir wat dit behoort te wees. Hulle leer ons van omgee, vriendskap, glimlagte, barmhartigheid, vergifnis, verantwoordelikheid, drome en liefde. Nooit sal ek genoeg kan dankie sê vir die liefde wat my ma my mee grootgemaak het en elke dag mee omvou nie. Sy het my geleer dat omstandighede nie bepaal wie mens aan die binnekant is nie en dat ek daagliks soos ʼn lig na die wêreld toe moet uitstraal.

Alles wat ek nou nodig het om te weet en soms soos ʼn haas uit ʼn hoed uit moet ruk, het my mamma my geleer en ek is ewig dankbaar daarvoor.

Dankie, Mamma.