Een Desember besluit ek en my sus om die lang en pragtige pad af Kaap toe aan te durf. So is ons sak en pak in die motor. Heerlike padkos, en ek praat van broodjies, worsrolletjies, beestong, hoenderboudjies en vele ander lipleklekker bederfies van ons mamma af. Ons het ʼn koelboks vol items vir wanneer die Karoo-dors ons tref, genoeg klere om ons op ʼn eiland aan die gang te hou en een-en-dertig ure se fantastiese musiek. Selfs ʼn yoga-mat vir rek-en-strek-oefeninge, wanneer die agterstewe lam raak van al die sit.

Opgewonde soos graad eentjies op pad na ons eerste skooldag en sing ons uit volle bors saam met die musiek wat deur die motor vloei. Ons stop vir ʼn vinnige Brêkfis in Bloemfontein soos die treffer van Laurika Raugh ons aanmoedig om die roete te voltooi. Dis net nadat ons trommeldik geëet is en in die pad val wat die harde realiteit ons tref. Dit is hondver Kaap toe. Gelukkig is ons beplanning so dat ons in Beaufort-Wes gaan oornag. Dit is hier waar die papaja die waaier tref. Ons trek van die pad af en besigtig ons woonplek vir die aand van die buitekant af. Die oomblik wat ek die motordeur oopmaak, smelt my vel van my gesig af. Dit is so warm dat ons skaars asem kry. Ek worstel deur die droë hitte wat oor ons spoel tot by die ingang. Die ontvangspersoneel is uiters vriendelik en verwys ons na ons kamer.

Daar kry ons ʼn redelike onaangename verrassing. Ons kamer, aka vertrek is so groot soos ʼn vuurhoutjieboks en ons moet bo-oor ons bagasie spring om by die badkamer uit te kom. Die badkamer is ʼn posseël en verseker net geskik vir ʼn tru-rat begewing in die badkamer in. Daar is geen ventilasie in die vertrek nie. Ek en my sus asem mekaar se warm koolstofdioksied in en voel asof die lewe uit ons getap word. Die enigste genade, as mens dit ʼn genade kan noem, is een van daardie spoggerige ou dakwaaiers. Hierdie een is ekstra spesiaal − dit maak ʼn baie stadige beweging en ʼn woep, woep, woep geluid. Gelukkig is dit glad nie steurend nie.

Ons is later rasendhonger en gaan inspekteer die restaurant op die perseel. Dit vertoon skoon, netjies en die reuke wat uit die kombuis stroom is aanloklik. Ons neem plaas en bestel dadelik ʼn lafenis. Die lugverkoeling is buitewerking en die hitte vreet aan mens se vel. Ek loer na die spyskaart en besluit lamsnek is net die bederf wat ek verdien. Ons bestelling word vriendelik geneem en daar sit ons en bekyk die ander reisigers. Ek kan skaars praat soos die warm lug my energie uitsuig.

My suster sit in die rigting van die kombuis en ontvang haar kos eerste. Ek sien hoe haar oë rek toe my bord aankom en kyk angstig na haar. “Wat is dit? Wat is fout? Is dit weer die verkeerde kos?” Die vrae het behoorlik uit my keel geborrel en daar sit sy woordeloos soos Lot se vrou en gaap die kelnerin aan. Die onbekende kom uiteindelik tot voor my aangesig en ek val amper reg agteroor van die skok. Daar op ʼn groot, langwerpige bord pronk ʼn lamsnek. Nie lamsnek nie. ʼn Lam se hele nek. Die woorde ontgaan my heeltemal toe die gedoente voor my geplaas word. Dit is so groot dat dit ʼn gesin van vier kon voer. Miskien nog ʼn stukkie oorgehou om broodjies vir die volgende dag ook mee te maak.

Asof die nek nie reeds intimiderend genoeg is nie, word dit bedien saam met rys en sous, pampoen en kool met ʼn kaassous. Het ek die hele lam bestel of net lamsnek? Ek soek naarstigtelik na die spyskaart om seker te maak ek het dit nie mis gelees nie. Helaas, dit is wat mens kry vir ʼn karige paar rand. Dit het my moed tot in my skoene laat sak. ʼn Man spring amper uit sy stoel uit om te hoor wat ek bestel het, want hy wil presies dieselfde hê. Die hongerpyne was al wat my gekeer het om my kos net daar en dan, weg te gee.

ʼn Dame val uit haar stoel uit om haar bestelling te kanselleer nadat sy my bord se porsie-grootte aanskou het. Die hele restaurant se oë is op my. Jy weet daardie oomblik wat jy soos ʼn insek onder ʼn mikroskoop voel of ʼn dier in ʼn hok by die dieretuin. Wel, dit was die gevoel wat ek gekry het. Asof die hele area skielik stil is en daar ʼn kollig op my skyn. Die druk was ondraaglik en ek het soos my ma se sterkste turtle die nek hap vir hap aangepak. Hoe eet mens ʼn olifant? Stukkie vir stukkie. In hierdie geval het ek besef om ʼn hele nek te eet is baie moeiliker as wat dit lyk.

Met die dat die lugverkoeling buite werking was, was die taak ʼn  berg so groot soos Kilimanjaro. Ek het die kool probeer eet, maar moes die kaas afhaal. My suster het my geskok aangekyk. Ek meen, wat gaan die beste saam met kool? Kaas! Nie hierdie keer nie. Ek het my stout kind stemmetjie uitgehaal “Ek kan nie die kaas ook eet nie, Ou, dit is teveel. Ek kan… net… nie.” Ek is seker julle hoor die pyn en lyding waardeur ek gegaan het. Twee-derdes in daardie nek in en dit het my oorwin. Ek het summier handdoek ingegooi en was nie eens skaam om net terug te sit, my hande in die lug te gooi en op te gee nie.

My suster het grasieus uitgestap, ek het gevoel asof ek al kreunend daar uit gerol het. My maag het die van ʼn baba hondjie weerspieël. So in die hitte van die oomblik en trommeldik het ons op die beddens neergeval en bly lê. Amper gedroom ek sluk ʼn hele lam in. Die slotsom van hierdie tragiese en heerlike ervaring is:

  • vra altyd in die Karoo hoe groot die porsies is;
  • maak seker daar is lugverkoeling in die warm, droë plekke;
  • maak ʼn handdoek sopnat en sit dit oor jou voete om af te koel; en
  • pak ʼn enorme uitdaging stuk vir stuk aan.