“Hoekom kompeteer jy met hulle?”

Daar skiet ʼn frons tussen sy wenkbroue in, asof hy nie haar vraag waardeer nie.

“Ek doen nie.”

Hy vryf gefrustreerd oor sy oë. Dan kyk hy met eerlike kwesbaarheid na haar.

“Ek weet nie.”

Rouxlé se hartsnare roer onwillekeurig. ʼn Man wat homself toelaat om kwesbaar te wees, is een van die mooiste verskynsels in die heelal. Sy wik en weeg oor haar reaksie.

“Miskien sien jy nog nie dat jou waarde en wie jy is meer is as die materialistiese suksesse wat mense behaal nie. Dalk moet jy net jouself vir ʼn slag deur iemand anders se oë sien.”

Hy kyk ʼn oomblik na haar en sy kan sien haar woorde tref hom emosioneel.

Francois skuif hulle glase na die eenkant van die klein tafeltjie wat tussen hulle staan. Sy kyk fronsend na hom. Waarmee is hy besig? Hy leun effens nader as voorheen. Rouxlé besef eers wat gebeur toe Francois so naby aan haar is dat sy die vlekke in sy blou oë kan sien. Sy is nie in staat om agtertoe te beweeg nie en het geen keuse as om in sy oë te kyk nie. Hy lig sy hand stadig en sit die paar stringe hare wat agter haar oor uitgespring het weer sag in hulle plek. Haar oë dwaal vir ʼn oomblik na sy hand wat teen haar wang streel en sy neem die sensasie wat deur haar vel skiet in.

Hy leun nog nader en dan ontmoet hulle lippe in ʼn sagte soen wat soos weerlig deur haar liggaam skiet. Haar hand rus outomaties teen sy wang en sy laat haar kop effens skuins draai. Hy reageer onder haar beweging en die soen verdiep, terwyl hulle lippe mekaar al hoe meer soek. Die tafel tussen hulle frustreer haar en sy moet haarself herinner dat hulle op hierdie oomblik in ʼn openbare plek is. Indien dit nie die geval was nie, sou sy haarself gelig het en haar arms om sy nek gesit het. Die bietjie liggaamshitte wat sy hande en mond tans aan haar bied is nie genoeg nie.

Francois trek na ʼn paar minute weg en beide se asems jaag. Rouxlé kyk eers nie op nie. Haar oë is waarskynlik ʼn warboel van onstuimige emosies. Sy sien deur haar wimpers hoe Francois se hand oor die tafel na hare soek. Sonder enige huiwering plaas sy haar hand in syne en kyk op. Die helder blou oë wat na haar kyk se emosies laat haar na haar asem snak. Hy steek nie sy passie of waardering weg nie en sy voel hoe haar wange begin verkleur. Wanneer laas het ʼn man haar gesoen dat haar hartklop versnel en haar liggaam aan die brand slaan?

 

In sy hart is nou beskikbaar by: